Content: Home, Recipes

Koeksisters

Added 10/Sep/2014


source: untrusted

Hartseer soos wat mag wees, is omtrent al my hits is van mense wat soek na koeksister resepte. (‘n ander een wat my onverwags betrap het is mense wat soek na behandeling van breinvliesontsteking). Ek voel daarom genoodsaak om my deel vir die samelewing te doen:

Vir die stroop:

Gooi 1 kg suiker, 500 ml water, 5 ml kaneel en 2.5 ml gemmer in ‘n pot en kook dit tot ‘n opgeloste vloeistof. STOP. Wag tot die stroop koud genoeg is om in ‘n ander bak te gooi. Laat die stroop oornag afkoel in die yskas. Go to bed, do not pass go, do not collect $200. Die yskoue stroop is die eerste geheim van koeksisters maak, so moenie eers met louerige stroop probeer nie ! Wanneer jy dit die volgende dag uitgehaal het, sit die bak in ‘n ander bak met yskoue water en ysblokkies in, sodat die vloeistof koud bly te midde van die oefening.

Vir die deeg:

Verhit (nogal baie warm, maar nie kook nie) genoeg sonneblomolie in ‘n pot om die sistertjies in te braai. Meng 500 ml koekmeelblom, 5 teelepels bakpoeier en knippie sout. Vryf 30 ml margarien in met jou vingers.

Sny 200 ml melk en/of water (ek gebruik 100ml water en 100 ml water) in die meel in. Moenie die meel te veel hanteer nie, hoe minder jy dit hanteer hoe beter.

Rol dit uit op ‘n ligweg-meel-gestrooide oppervlak tot so 5 mm dikte. Sny die deeg in repe van 5 cm breed en 10 cm lank (net ‘n riglyn, dimensioneer na gelang van smaak). Sny die repe verder om elk drie bene te hê. Vleg die bene en druk dit styf vas aan die oop kant.

Bak die gevlegte outjies in die olie tot altwee kante ‘n mooi karamel kleur het. En nou vir die tweede geheim: Die koeksister moet nog kook en borreltjies maak, dan moet jy dit al in die yskoue stroop onderdompel het, soveel so dat jy hom sal hoor stroop trek. Haal die koeksister na so minuut uit. Die koeksister behoort baie swaarder te voel as jy hom uithaal.

Gebruik verskillende implemente om die koeksisters in die olie en in die stroop te hanteer, vertrou my, jy wil nie stroop in die olie kry nie.